Die Burger Pryslyn Kompetisie – hoe regverdig is dit?

Ek neem al geryme tyd aan Die Burger Pryslyn Kompetisie deel — kyk hier om ‘n idee te kry van hoe lank al. Tot op hede was ek nog nie eens naby om iets te wen nie so die vraag het by my ontstaan van hoe regverdig is hierdie kompetisie?

Ek was altyd onder die indruk dat die nommers elke dag in Die Burger lukraak (randomly) gegenereer word sonder inagneming van in watter ry dit voorkom. Al wat geignoreer word is die nommers wat reeds in die verlede gepubliseer is en die nommers wat glad nie op ‘n kaart verskyn nie.

Ek het tot die besef gekom dat hierdie afleiding nie korrek is nie. Ek is seker dat elke dag voordat die nommers gepubliseer word daar gekyk word dat die nommers die minste wenners lewer en indien daar wenners is, dat dit baie lae pryswaarde het. Van julle mag sê dat dit nie moontlik is nie want hoe weet Die Burger hoe elke kaart lyk. Wel, Die Burger weet presies hoe elke kaart lyk en watter nommers in watter ry is. So al wat ‘n rekenaar hoef te doen wanneer die nommers gegenereer word, is om dit te vergelyk met al die kaarte in omloop en te kyk watse wenners word opgelewer. Indien daar te veel wenners is dan word ‘n nuwe stel nommers gegenereer.

As ek na al my kaarte van die verlede kyk is dit intressant om op te let hoe eweredig die nommers oor die hele kaart versprei is en dat daar altyd 1 of 2 oop nommers op ‘n ry is. Nooit 5 oop in ‘n bepaalde ry en 1 of 2 ander rye vol nie. In ‘n lukrake omgewing is dit net nie moontlik dat so iets sal gebeur oor so ‘n lang tyd nie. Wiskundig maak dit net nie sin nie.

Julle sal dink dat ek hierdie slegs sê omdat ek nog nie gewen het nie. Wel dan moet iemand my asseblief verkeerd bewys en ek hoor met graagte julle menings.